Dit is Saterdag, 27 Februarie 2021. Ons gesin is vandag presies 3 jaar en 1 week op die plaas. Wat 'n voorreg en genadetyd aan ons verleen!
In die meer as 1000 dae op die plaas, was daar in élke dag 'n lessie te leer en 'n seëning om te tel. Dit is dus ook nou my begeerte om van vandag af die seëninge deur my vingers vas te lê en te deel. Dit gaan nie om spog nie. Dit gaan nie om bemarking nie. Dit gaan primêr oor die lof en eer aan ons Hemelse Vader, want dit is alleen Hy, ons Skepper en Onderhouer, wat ons die lieflikheid van die lewe laat smaak.
Vroeg-vroeg vanoggend lui die tyding: “Daar is 'n nuwe lammetjie! Die ooi en haar pasgebore ramlam is in die kraal.”
Ek roep die kinders uit hul kamers om die verrassing te kom kyk. Sokkies aan, stewels aan en deur die gras beweeg ons kraal toe ... en dáár is hulle! Dit is Tiramisu, Friesie se mamma, wat gelam het. (Friesie is in Junie 2020 op een van ons koudste wintersoggende gebore en het al mooi groot geword, maar is die afgelope maand deur 'n rondloperhond gebyt. Infeksie het haar lewe bedreig. Ons was nie seker of sy sou lewe nie, maar sy het mooi herstel.) Tiramisu is nou moeder van 'n splinternuwe skapie! Die ramlammetjie is pragtig, oorwegend swart met wit vlekke en 'n spierwit stertjie. Weens die datum, noem ons hom “Majuba”.